Ja vir Punt-toerismeprojek (Yes for Point-tourism project)

Posted by Peter on Tue October 29, 2013 in Newspaper Articles.

Die Burger - 28 October 2013

GEORGE. – Planne om die Punt by Mosselbaai – naby die wêreldbekende Pinnacle Point-grot – teen miljoene rande as ’n toeristebestemming uit te bou, het die groen lig gekry.
Die Wes-Kaapse departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning het onlangs omgewingsmagtiging vir die projek gegee.
Deel van die plan is om ’n opvoedkundige sentrum by die Punt in te rig wat inligting sal verskaf oor die aansoek by Unesco om die Pinnacle Point-grot tot wêrelderfenisterrein te laat verklaar.
Die aansoek word deur die provinsiale bewaringsowerheid, Erfenis Wes-Kaap, gekoordineer, maar die ontwikkeling van die Punt is nie hieraan onderhewig nie.
Harry Hill, munisipale woordvoerder van Mosselbaai, het by navraag aan Die Burger gesê die omgewingsmagtiging is onderhewig aan ’n appèltydperk.
“Die magtiging is geldig vir vyf jaar. Die Mosselbaaise stadsraad het verlede jaar besluit dat enige opknappingswerk onderhewig is aan die beskikbaarheid van geld, asook die raad se goedkeuring vir die verskeie projekte.”
Aandag word nou gegee aan die finale beplanning van spesifieke projekte, het Hill bygevoeg. “Die geld sal geïdentifiseer moet word, of daar sal daarvoor in die volgende boekjare begroot moet word.”
Die Mosselbaai-munisipaliteit beywer hom vir die totstandkoming van ’n sogenaamde poort – by die Punt – waaroor erfenisterreine gewoonlik beskik.
Die argeologiese terrein by Pinnacle Point is vroeër tot provinsiale erfenisterrein verklaar. Ses jaar gelede het prof. Curtis Marean van die Universiteit van Arizona in Amerika ’n belangwekkende paleo-antropologiese vonds in die grot by Pinnacle Point gemaak. Hy het bewys dat mense sowat 164 000 jaar gelede mariene bronne by Pinnacle Point benut het. Vir simboliese rituele is oker gebruik.
Nader besonderhede oor die planne vir die uitbouing van die Punt sal eers later bekend gemaak word, het Hill gesê. “Dit is nog nie moontlik om spesifieke projekte te noem, of tydskale daaraan te koppel nie,” het hy gesê.
• Lees die omgewingsmagtiging van die Wes-Kaapse departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning by www.sescc.net.